Stiegler en die hedendaagse kultuur : te vlak vir woorde?
Bert Olivier
2018
De Uil van Minerva
Wanneer 'n mens die werk van Bernard Stiegler onder oë kry, weet jy dat jy hier met 'n filosoof te make het wat nie bang is vir die spreekwoordelike duiwel nie. Hy huiwer nie om dit by name filosofies te takel en tot verantwoording te roep in sy boek, For a New Critique of Political Economy 1 nie, waar hy onomwonde die huidige ekonomiese stelsel vir die huidige veelvormige wêreldkrisis blameer. 2 Ek benut doelbewus die term "duiwel" hierbo. Immers: indien iemand my sou vra waarin die "duiwel"
more »
... ndag beliggaam word -nie in die sin van 'n konkreetbestaande, andersins mitologiese wese nie, maar bloot as simoniem vir boosheid -sou ek sonder om te aarsel antwoord dat dit die neoliberale kapitalisme is, veral vir sover die onvoorwaardelike rol van die winsmotief, gekoppel aan ongebreidelde ekonomiese groei, tot die vernietiging van sosiale asook natuurlike ekosisteme lei. Dit is dermate die geval dat 'n sisteemwetenskaplike in 2012 sy lesing by 'n internasionale konferensie in San Francisco aangekondig het met die titel: "Is Earth F**ked?" En toe 'n joernalis wat, soos die meeste teenwoordiges, nie al die tegniese verduidelikings kon begryp nie, 'n direkte antwoord op hierdie vraag versoek het, was die wetenskaplike se antwoord: "More or less". 3 In genoemde boek skroom Stiegler nie om die waarskuwing te uiter, dat mense se "koppe in die sand begrawe" is nie, en beskuldig hy tydgenootlike filosowe daarvan dat hul verwaarlosing van die projek van 'n kritiek van politieke ekonomie (politiek en ekonomie is onskeibaar; iets wat maklik vergeet word)wat terugverwys na Marx se paradigmatiese formulering daarvan -'n rampspoedige toedrag van sake verteenwoordig. Wat dringend noodsaaklik is, volgens Stiegler, is juis 'n kritiek, in die Kantiaanse sin, van die huidige globale politieke ekonomie, ten einde die uiteraard ideologiese karakter bloot te lê van wat sowel finansiers, industrialiste en politici sodanig geïnternaliseer het dat hulle dit as bloot 'n "gegewe" toedrag van sake bekou, terwyl dit demonstreerbaar uit nieonderhoubare konstruksies bestaan. In weerwil van die stilte wat die oorgrote meerderheid van filosowe handhaaf wanneer dit by hierdie sake kom, is die belangrikheid van die voorgestelde kritiek daarin geleë dat dit die huidige karakter van politieke ekonomie aan die kaak moet stel. Laasgenoemde is immers onlosmaaklik verbind met 'n industriële samelewing wat getuie is van 'n omvorming van arbeid, die funksionalisering van produksie en verbruik, asook -
doi:10.21825/uvm.v30i2.8583
fatcat:7i3ssbo4wvfqrcdtdfknwmlce4