Lothar Neethling – 'n lewe vertel
A Jordaan
2014
Tydskrif vir Letterkunde
Die Duitse filosoof Martin Heidegger het verwys na die geworpe aard van ons lewens, naamlik dat ons uit die niet ewe skielik onsself bevind in 'n plek en tyd waar ons moet sin maak van ons situasie en van alles wat uniek maar ook spesifiek is tot die situasie. Hierdie geworpenheid is 'n diep eksistensiële konsep wat uiting gee aan die menslike ervaring van 'n historiese konteks, maar ook aan die moderne tendens om self die lewe betekenis te gee met wat 'n mens vind in jou situasie op 'n aarde
more »
... ar daar miljoene situasies bestaan. Die lewensverhaal van Lothar Neethling (oorspronklik Tietz) herinner nogal aan die idee van geworpenheid: As Duitse weeskind uit Oos-Pruise verloor hy die meeste van sy gesin in die Tweede Wêreldoorlog. In 1948 verlaat hy Duitsland as dertienjarige vir 'n nuwe herkoms in Suid-Afrika. Hy verskuif dus van die situasie en historiese konteks van Nazisme in die verlede na 'n toekoms van apartheid, wat voor die deur was met sy aankoms in Pretoria. In Pretoria vind Lothar 'n nuwe familie, onder andere sy aangenome suster Annette, die skrywer van die biografie. Hy maak vinnig opgang as 'n jong man met baie belofte in 'n keur van die bekendste Afrikanerinstansies: Hy gaan skool op Affies en studeer dan aan die Universiteit van Pretoria. Hy behaal twee doktorsgrade in chemie, eers by die Universiteit van Kalifornië en later by UP. 'n Innemende voorbeeld van sy wilskrag en determinasie vind plaas ná die einde van sy studentejare wanneer hy een somervakansie van die Suid-Kaap na die Bosveld ryloop om sy toekomstige vrou Juliette te oorreed van sy liefde vir haar (39-40). Die groot wending in Lothar se lewe vind plaas in 1971 wanneer hy die akademie agterlaat en aansluit by die polisie as hoof van die forensiese laboratorium. Die skuif is die gevolg van sy begeerte om die wetenskap te beoefen tot voordeel van die gemeenskap, wat hy nie vind in die akademie nie (56). Die laboratorium groei met rasse skrede onder sy leiding, en 'n vriend meen dat Lothar "forensiese polisiëring [in Suid-Afrika] van die ossewatyd na die ruimte-eeu gebring" (93) het. Lothar maak opgang in die polisie en vorder deur drie range in nege jaar. Teen die begin van die 1980's bereik hy die toppunt van sy loopbaan op die jong ouderdom van 45. Die laaste dekade van apartheid lei 'n moeilike tyd van Lothar se lewe in, wat sekerlik die geval was vir die meeste mense wat in die verskillende staatsinstansies gewerk het. Die stryd van die regering teen die ANC word op die spits gedryf en die forensiese laboratorium van die polisie word uiteraard betrek in die ondersoek van terreuraanvalle. In die midde van hierdie historiese knelpunt word Lothar hoofadjunkkommisaris in die polisie in die rang van luitenant-generaal in 1985, asook die hoof van die kriminalistiektak van die polisie. Die nuwe forensiese laboratoriumgebou wat in 1988 geopen word, dra sy naam. Hierdie prestasies maak van Lothar 'n publieke figuur en daarmee saam kom die druk en aandag wat so 'n posisie dra. Net 'n paar maande voor Mandela se vrylating gebeur die welbekende aantygings teen hom aangaande die skep van giftige middels wat die veiligheidspolisie gebruik het om mense mee te verdoof en te vermoor. Die bron hiervan is Dirk Coetzee, die berugte bevelvoerder van Vlakplaas en dit verskyn in 'n berig in die Vrye Weekblad. Lothar beveg die aantygings suksesvol in die hof alhoewel dit eers ná vier jaar en 'n appèl plaasvind. Ten spyte van hierdie uitslag is die skade aangerig en hy besluit om vroeg
doi:10.4314/tvl.v51i1.21
fatcat:pt2mpjtoqnbyfijatfbagooare