Kleinboer as Johannesburgse flaneur, met spesifieke verwysing na Werfsonde

Bibi Burger
2018 Journal of Literary Studies  
Opsomming In sy resensie van Werfsonde (2012) sê Van Coller (2013: 193) dat die outobiografiese roman se hooffiguur nie beskou kan word as 'n flaneur nie. Hy definieer "flaneren" as "doelloos rondswerf" en sê dat dié konsep 'n baie spesifieke betekenis in die Europese literatuurgeskiedenis het. Hierdie artikel argumenteer dat die verteller van Werfsonde wél as flaneur beskryf kan word. Walter Benjamin (1997: 55) konseptualiseer die flaneur nie as iemand wat slegs ronddwaal nie, maar voer aan
more » ... e, maar voer aan dat 'n flaneurteks een is waarin die skrywer of verteller se eksplisiete politieke kommentaar van minder belang is as die maniere waarop die teks gemerk is deur die stedelike omgewing waardeur die flaneur beweeg. Hierdeur word die teenstrydighede van die flaneur se samelewing in die teks ontbloot. Hierdie artikel voer aan dat Benjamin se teoretisering oor die flaneur gebruik kan word om 'n algemene diskoers binne die Suid-Afrikaanse literatuurteorie -waarbinne die literêre uitbeelding van beweging deur die stad gekonsepsualiseer word as bemagtigend en simbolies van karakters se agentskap -te nuanseer. Werfsonde dien as 'n gepaste teks vir die verkenning van die beperkings van hierdie diskoers omdat die verteller se beweging deur Johannesburg beïnvloed word deur 'n verskeidenheid faktore, insluitend sy klas, ras en geslag. Benjamin (1997: 104) se beskrywing van die flaneur as 'n skrywer wat homself nie heeltemal van sy omgewing kan distansieer om kritiek daarop te lewer nie, maar wat toelaat dat die stad hom en sy werk merk op 'n manier wat wel kan lei tot politieke insigte, dien dus as 'n manier om die politieke belang van Werfsonde te verken sonder dat die verteller gekonsepsualiseer word as 'n ten volle outonome mens wat agentskap uitoefen deur sy bewegings deur Johannesburg. Summary Reviewing Werfsonde (2012) by Kleinboer, Van Coller (2013: 193) says that the novel's protagonist cannot be considered a flâneur. He defines flâneur-ing as "aimless wandering" and says the concept has a very specific meaning in European literary history. This article argues that the narrator of Werfsonde can in fact be described as a flâneur. Walter Benjamin (1997: 55) doesn't conceive the flâneur simply as someone who wanders, but argues that a flâneur text is one in which the explicit political commentary of the writer or narrator is of less importance than the ways in which the text is marked by the urban environment through which the flâneur moves. Through these marks the contradictions of the society in which the flâneur is situated are exposed. In this article, I argue that Benjamin's theorisation on the flâneur can be used to add nuance to a prominent discourse within South African literary theory -a discourse in which the literary representation of movement is conceptualised as empowering and symbolic of characters' agency. Werfsonde serves as a suitable text for the exploration of the limitations of this discourse, because the narrator's movements through Johannesburg are influenced by a variety of factors, including his class, race and gender. Benjamin's (1997: 104) description of the flâneur as a writer who cannot completely distance himself from his environment in order to critique it, but who allows the city to mark him and his writing in a way that can lead to political insights, serves as a way of exploring the political implications of Werfsonde without conceptualising the narrator as a fully autonomous person able to enact agency through his movements in Johannesburg. Inleiding Werfsonde (2012) is die tweede roman in wat deur die uitgewers, Penguin Random House (2017: par. 3), as 'n drieluik beskryf word. Die eerste, Kontrei (2003), wen in 2004 die Rapport/Jan Rabie-prys vir vernuwende prosa en word deur Jaco Fouché in Engels vertaal as Midnight Missionary. Die derde, Hierdie Huis, word in Julie 2017 gepubliseer. Al drie die romans is outobiografies en gaan oor 'n wit, middelklas verteller se alledaagse lewe in Yeoville, 'n Johannesburgse buurt wat hoofsaaklik bewoon word deur arm swart Suid-Afrikaners en immigrante uit die res van Afrika. Die verteller besoek gereeld bordele en behalwe vir sy gesinslewe (met sy vrou Lungi en haar seun Jomo) en sy werk as taalversorger, bestaan die romans uit beskrywings van seks met swart prostitute. In 'n resensie van Werfsonde sê Van Coller (2013: 193) dat die roman nie beskou kan word as 'n flaneurteks nie, ten spyte van die verteller se bewegings deur 'n stad en beskrywings van prostitute -beide eienskappe wat algemeen voorkom in flaneurtekste. Die rede waarom Van Coller (2013: 193) Werfsonde nie as 'n flaneurteks bestempel nie, is omdat hy flaneer definieer as "doelloos rondswerf" en aanvoer dat dié konsep 'n baie spesifieke betekenis in die Europese literatuurgeskiedenis het. In hierdie artikel wil ek aanvoer dat, alhoewel die verteller van Werfsonde se rondswerwery nie doelloos is nie, die teks juis gelees kan word in terme van Walter Benjamin se teoretisering rondom die Europese flaneurtradisie. Walter Benjamin se teorieë rondom flaneurliteratuur is invloedryk binne die Suid-Afrikaanse literêre teorie -veral na aanleiding van Sarah Nuttall se artikel "City forms and writing the 'now' in South Africa" (2004). Hierin voer sy aan dat teoretiserings oor Suid-Afrikaanse stedelike literatuur wat fokus op die negatiewe, korrupterende invloed van stedelike ruimtes op karakters, reduksionisties is. Sy argumenteer dat teoretici eerder by die werk van Benjamin en Michel de Certeau moet aansluit om die maniere te verken waarop individuele karakters agentskap uitoefen in stede en nie net deur die stede gedetermineer word nie. Nuttall se benadering is betekenisvol omdat dit stereotipiese beelde van Afrika-stede uitdaag, maar dit erken nie voldoende dat Benjamin nie die beweging van die flaneur as 'n uitoefening van agentskap konseptualiseer nie. In sy besprekings van die werk van Charles Baudelaire teoretiseer hy nié dat die flaneurskrywer agentskap uitoefen deur beweging of dat hy homself kan distansieer van sy omgewing om daarop kritiek te lewer nie (Benjamin 1997: 104). Hy voer eerder aan dat die flaneurskrywer se werk waardevol is omdat dit tekens van gedetermineerdheid toon en die flaneur verteenwoordigend raak van kommodifisering en die middelklasposisie in sy stad. In Baudelaire se geval raak die flaneur, ten spyte van sy antibourgeois uitsprake, juis verteenwoordigend van die middelklas in neëntiende-eeuse Parys. Benjamin formuleer dit soos volg: There is little point in trying to include the position of a Baudelaire in the fabric of the most advanced position in mankind's struggle for liberation. From the outset it seems more promising to investigate his machinations where he undoubtedly is at home -in the enemy camp [the bourgeois]. Very rarely are they a blessing for the opposite side. Baudelaire was a secret agent -an agent of the secret discontent of his class with its own rule. (1997: 104) Hierdie artikel voer aan dat alhoewel Werfsonde se verteller eksplisiet en implisiet kritiek lewer op ander wit middelklas inwoners van Johannesburg, hy uiteindelik juis beskou kan word as verteenwoordigend van Afrikaanssprekende, wit, middelklas Johannesburgers en die "discontent" en teenstrydighede van hierdie groep se posisie duidelik maak. Daar sal aangetoon word dat Werfsonde 'n gepaste teks is om die waarde van Benjamin se fokus op die flaneur as gedetermineerd en verteenwoordigend van 'n bepaalde samelewings-groep vir Suid-Afrikaanse literêre teorie -en veral teorie gemoeid met die uitbeelding van stedelike ruimtes -te verken. Aan die een kant is die Johannesburgse ruimtes wat in Werfsonde uitgebeeld word nie bloot stereotipies nie, omdat 'n verskeidenheid spesifieke ervarings van individue in die stad uitgebeeld word. Die karakters word ook nie ten volle deur die ruimtes waarin hulle hulself bevind gedetermineer nie. Aan die ander kant toon die uitbeelding van die outobiografiese verteller se ervarings wel tekens van gedetermineerdheid. Soos geargumenteer sal word, kan die maniere waarop hy deur die stad beweeg verstaan word in terme van, onder meer, sy ras, klas en geslag en kan dit dus nie gesien word as die aksies van 'n ten volle rasioneel en outonome individu wat homself kan distansieer van sy omgewing om keuses uit te oefen nie. Om die belang hiervan vir die Suid-Afrikaanse literêre teorie te toon, sal die diskoers oor die literêre uitbeelding van beweging in die stad eerstens uiteengesit word. Daarna sal die bewegings van die verteller van Werfsonde bespreek word as die bewegings van 'n flaneur. Daar sal in die besonder gefokus word op die uitbeelding van geslag in die roman, die invloed daarvan op die karakters se bewegings, en die politieke implikasies daarvan. Die flaneur en bewegende stedelinge binne Suid-Afrikaanse literêre teorie Alhoewel daar verskeie uitsonderings is, word Afrikaans-en Engelstalige Suid-Afrikaanse fiksie wat in stede afspeel dikwels in terme van veral twee teoretiese raamwerke geïnterpreteer. Eerstens word dit verstaan as 'n reaksie op die Afrikaanstalige plaasromanen Engelstalige pastorale tradisies. 1 Tweedens word stedelike tekste dikwels beskou as 'n 1 Kyk Van Coller (2006) vir 'n oorsig van die plaasromantradisie en verwysings na stedelike romans wat in terme daarvan geanaliseer word, en Kruger (1997: 566) vir 'n oorsig van die Engelstalige pastorale tradisie en dramas wat in terme daarvan geanaliseer word. voortsetting of ondermyning van die sogenaamde "Jim comes to Joburg"-troop. Hierdie troop, wat handel oor 'n naïewe swart man wat na die stad gaan en daar gekorrupteer word (Baines 2003: 38), is te vinde in verskeie Engelstalige Suid-Afrikaanse literêre werke uit die eerste helfte van die twintigste eeu, waarvan die bekendste waarskynlik Cry, the Beloved Country (1948) deur Alan Paton is (Medalie 2003: 40; O'Shaugnessy 2012: 17; Kruger 2013: 66). Ook meer onlangse Engelstalige romans, soos Welcome to our Hillbrow (2001) deur Phaswane Mpe, word gelees vir die manier waarop dit by hierdie troop (of by die opposisie tussen landelike en stedelike) aansluit of dit ondermyn. 2 Daar is minder Afrikaanstalige tekste wat in terme van hierdie troop geanaliseer word. Swart Pelgrim (1952) deur F.A. Venter is 'n prominente uitsondering (sien Stahle 2001: 202; Kannemeyer 2005: 436; Titlestad 2012: 676). Roos (1998: 45) bespreek ook Afrikaanse literatuur deur swart skrywers, soos As die Son Ondergaan (1945) deur S.V. Petersen, en Okkies op die Breë Pad (1955) deur Eddie Domingo en Jôhannie Giet die Beeld (1954) en Met Erbarming, o Here (1957) deur Arthur Fula wat handel oor onskuldige swart karakters wat deur die bose stad gekorrupteer word -iets wat volgens Roos (1998: 28) in verband gebring kan word met die "Jim comes to Joburg"-troop. 'n Wending in die manier waarop die uitbeelding van die stad in veral Engelstalige Suid-Afrikaanse literatuur geanaliseer word, kom met "City forms and writing the 'now' in South Africa" (2004) deur Sarah Nuttall. Hierin argumenteer sy dat 'n literêre benadering wat gebaseer is op die "Jim comes to Joburg"-motief uitgedien is. Haar kritiek teen hierdie diskoers berus op 'n breër kritiek van die negatiewe manier waarop Afrika-stede gewoonlik deur akademici gekonsepsualiseer word. Dit sluit dus aan by die geograaf Jennifer Robinson (2006) se werk oor hoe Afrika-en ander sogenaamde "ontwikkelende" stede oor die algemeen deur akademici gemeet word teen 'n geïdealiseerde model van Westerse stede. skep deur achronologies en dekontekstualiserend te werk te gaan: Benjamin [...] seeks to create a textual space in which a speculative, intuitive, and analytical intelligence can move, reading images and the relays between them in such a way that the present meaning of "what has been comes together in a flash". (Jennings 2006: 12, 13) "The [fetishising, capitalist] dream world must be tricked into revealing its construction" (Ferris 2008: 119), omdat die flaneur, digter of filosoof nie buite die droomwêreld kan staan om dit van buite af te kritiseer nie. Die dialektiese beeld is immers nie iets wat die outonome outeur kan skep nie, dit kan net uit sekere situasies verrys en die outeur kan hoogstens hierdie situasies probeer skep. Kleinboer karakteriseer homself ook, soos Baudelaire, as iemand wat buite die middelklasleefwêreld staan (Retief 2004: 1; Malan & Taylor 2005: 50). Sy kinderjare was dié van 'n gemiddelde Afrikaanse middelklas seun, 7 maar hy beweer dat hy nog altyd 'n "outsider" was en dat sy werk gedeeltelik ten doel het om die "establishment", soos verteenwoordig deur sy oorlede "Hitleragtige" pa, te skok (Retief 2004: 1). Sommige kritici sien hierdie kritiek teen tradisionele Afrikanerwaardes as die waardevolste eienskap van Kleinboer se werk. In die commendatio van die Rapport/Jan Rabie-prys word daar beweer dat die teks "'n ander moontlike manier van Afrikanerwees [bied]: as deel van 'n verstedelikte, rasgeïntegreerde samelewing in die nuwe Suid-Afrika" (Kleinboer 2004: 6). So ook beweer Mputhing (2007: 5) oor Midnight Missionary dat Kleinboer versteekte waarhede ontbloot, en Dan Roodt (aangehaal in Engelbrecht 2003: 7) dat Kontrei "op 'n onbevange manier kyk na die nuwe Suid-Afrika en die amorele stel waardes waarmee ons nou sit". Smith (2004: 9) kritiseer Kontrei egter en sê dat alhoewel Kleinboer "'n fyn aanvoeling vir atmosfeer en dialoog" het, hy nie sy werk met "implikasies kán laai nie". Hy voeg wel by: "En tóg oortuig Kontrei jou dat jy juis in 'n kroeg of bordeel iemand sal raakloop wat jou iets betekenisvol oor die lewe in Suid-Afrika sal vertel". Hy impliseer dus dat die insigte wat Kontrei bied nie aan Kleinboer toegeskryf kan word nie, maar bykans per toeval voorkom. Kombuis (2012: 13) bevraagteken Kleinboer se rebelse openbare beeld wanneer hy sê dat 7 Kyk die verteller se beskrywing van sy jeug op bladsye 14-15, 20, 26-27, 81-82, 92-94, 104-105, 166-167, 179 en 181-183. "die skrywer eintlik maar net die spieël op[hou] sodat ons ons eie skynheiligheid en voorspelbaarheid kan herken vir wat dit is". Hy beweer dat Werfsonde 'n permutasie van die plaasroman is, met Kleinboer wat daarin figureer as 'n variant van die tradisionele Calvinis en patriarg (Kombuis 2012: 13). Alhoewel dit nie hulle eksplisiete bedoeling is nie, ondersteun Smith en Kombuis se uitsprake die vermoede dat Kleinboer, soos Baudelaire, nie geprys moet word vir sy politieke insigte of didaktiese boodskap nie, maar dat die waarde van sy werk daarin lê dat hy die uiterstes en teenstrydighede van die hedendaagse wit middelklas Johannesburgse lewe verteenwoordig en vir die leser teenwoordig maak op maniere wat verwant is aan Benjamin se konsep van die dialektiese beeld. Hierdie uiterstes en teenstrydighede het verskeie politieke implikasies; in die volgende afdeling word daar egter slegs op een aspek, naamlik geslagtelikheid, gefokus. Geslagtelikheid in Werfsonde Vervolgens word een van die belangrikste dialektiese beelde in die flaneurtradisie én in Werfsonde bespreek, naamlik dié van die vroulike prostituut. Die uitbeelding van vroulike prostitute in flaneurtekste sluit aan by die tradisionele uitbeelding van vroue in stedelike literatuur in die algemeen, wat berus op 'n onderskeid tussen die private en die openbare. Die private huishoudelike ruimte word tradisioneel hoofsaaklik geassosieer met die vrou en die openbare stedelike ruimte met die man (Bridge 2005: 15). In hierdie konseptualisering is die man 'n wandelende intellek, verwyder van die liggaamlike en emosionele en die vrou staties in die "home of nurturing bodies". Elizabeth Wilson (1991: 8) argumenteer dat in só 'n wêreldvisie die stedelike vrou net 'n prostituut kan wees: 'n openbare liggaam. Die verteller van Werfsonde maak duidelik dat hy bewus is dat die flaneurtradisie gepaard gaan met spesifieke geslagrolle en vorme van seks: Flaneur het meer met oë te doen en rondfok met voël, alhoewel die drie (twee oë en voël) nie onderling uitgesluit kan word nie, inderwaarheid 'n driehoek vorm. En die oë is die brein se ballas. En arms is vir tik wat bene vir rondloop is. (183) Dit is nie net by Kleinboer se flaneurskap wat seks verband hou met waarneem, wandel en skryf nie, die verhoudings tussen hierdie aksies is 'n inherente deel van die flaneurtradisie. Benjamin (2006: 166) beskryf immers die verhouding tussen stede en prostitusie as die groot tema van Baudelaire se poësie. Volgens Benjamin (1997: 171) kan die prostituut as 'n vroulike weergawe van die flaneur beskou word. Nes hy, is sy wandelaar, waarnemer, verkoper en produk in een. Die prostituut is dus ook een van die belangrikste dialektiese figure in die flaneur se skryfwerk, omdat hy deur middel van die uitbeelding van die "hoer" die kommodifisering van menslike verhoudings binne kapitalisme sigbaar maak (Benjamin 2006: 148). Baumeister en Vohs (2004: 339, 347) beweer dat dit steeds vandag waar is dat prostitusie slegs 'n openlike verteenwoordiging is van hoe heteroseksuele verhoudings in die algemeen werk: A heterosexual community can be analyzed as a marketplace in which men seek to acquire sex from women by offering other resources in exchange. Societies will therefore define gender roles as if women are sellers and men buyers of sex. Benjamin (2006: 148) argumenteer, met betrekking tot sy eie era sowel as Baudelaire s'n, dat dit nie net waar is van seksuele verhoudings nie, maar dat mense se lewens en ervarings in die algemeen die vorm van ekonomiese transaksies aanneem. In Werfsonde word prostitusie implisiet met ander kapitalistiese aktiwiteite vergelyk: "In 'n kroeg in Berea ontmoet ek donker Happiness. Sy skryf haar adres vir my neer: 65 Augusta Road, Regents Park. Dis oorkant 'n bakkery, sê sy. [...] Beslis 'n besoek werd. Ek sal by die bakkery ook inloer." (43) In Werfsonde is dit duidelik dat die verteller se vrou, Lungi, voel dat sy nie voldoende vergoed word vir die seks en huiswerk wat sy vir hom bied nie: "I don't know why I'm still staying in this rubbish house. I'm wasting my time. And I don't have money or a car. [...] Oh, a new computer. I want a computer at home" (18, 19). Hy is egter ook nie tevrede met haar huiswerk nie: "Sy was die skottelgoed, mop die kombuisvloer, vee die sitkamermat skoon en rangskik die doilies, kook kos. Maar dan loop sy weer sjebien toe" (11 -sien ook bladsye 165, 188, 219, 222). Die verteller moet haar soms ook smeek om hierdie take te verrig (19). Die kommodifisering van mense beteken dat die individu ander mense nie as volwaardige subjekte sien nie, maar net as voorwerpe en in terme van die nut wat hulle vir hom het. In "Visual Pleasure and Narrative Cinema" (1975) verken Laura Mulvey (2004: 841) hoe dit, wat geslagsrolle betref, in die kapitalistiese patriargale samelewing veroorsaak dat die man se rol dié van subjektiewe waarnemer is, terwyl die vrou se rol dié van voorwerp waarna daar gekyk word, is. Dit is die verhouding wat Anton Kannemeyer uitbeeld op Werfsonde se voorblad: 'n Wit man wat kyk vir die liggaam van 'n swart vrou. Op bladsy 61 spot die verteller vir NP van Wyk Louw oor die versreël "Lang motors kom en stil-lê soos hoere" en sê: "Stil lê? Stíl? Sodat die digter eenkant kan sit en die hoer betrag? [...] Sover ek weet, is daar bewéging waar hoere betrokke is". Op die voorblad word hy egter geplaas in die posisie van die (wit) skrywer wat die (swart) hoer betrag en word dit verteenwoordigend van sy rol in die teks. Die leser sien immers slegs deur sy oë die prostitute wat sy lewe vul. Kleinboer word daarvan beskuldig dat hy vroue objektiveer. Visagie (2005: 239) verwys byvoorbeeld na die beperkte karakterisering van die prostitute in Kontrei, wat draai om hulle kamernommers, "hulle voorkoms, hulle verskillende seksuele tegnieke, en die voorwerpe wat in hulle bordeelkamers voorkom". Wanneer Retief (2004: 1) vir Kleinboer in 'n onderhoud van die objektivering van vroue beskuldig, beweer hy: "Nee, want daar is wármte. Lag en spontane humor tussen my en hulle. Nee, ek sien hulle nie as objekte nie." Kleinboer (123) gun wel die prostitute in Werfsonde 'n mate van agentskap en lewens buiten hulle nut vir die hoofkarakter en hulle ander kliënte wanneer hy byvoorbeeld uitbeeld hoe hulle in tale praat wat hulle wit kliënte nie ken nie, of met dié kliënte spot. Die mate waarin hierdie agentskap dui op daadwerklike mag is egter beperk. Kleinboer (in gesprek met Retief 2004: 1) erken byvoorbeeld dat hy dit geniet "dat [prostitute] nie ná seks kan sê gaan sny die gras in die agterplaas nie". Die verteller in Werfsonde spog ook dat hy nog nooit vir 'n "hoer" "brekfis" gemaak het nie (228). Deur middel van hierdie verwysings na die stereotipies manlike voorstedelike taak van grassny, kontrasteer hy sy verhoudings met prostitute met hegemoniese middelklas heteroseksuele verhoudings, maar wys hy ook op die maniere waarop dit daarmee ooreenstem. Baudelaire skryf ook oor seks met prostitute as 'n manier om teen middelklas waardes te rebelleer, maar as flaneur verteenwoordig hy, volgens Benjamin, uiteindelik juis die uiterstes van hierdie waardes. Schoeman (2010: 48) voer aan dat die uitbeelding van seks in Kontrei gesien moet word as 'n verwerping van die "uitgediende waardes van Afrikaanse maskuliniteit", soos verteenwoordig deur die uitbeelding van die "vader, broodwinner, boer, jagter, kryger en outoriteitsfiguur" in die tradisionele plaasroman (Schoeman 2010: 34, 35). Daar is veral 'n opstand teen die "vader as simbool van die apartheidstelsel" (Schoeman 2010: 36). Ek sou aanvoer dat dieselfde waar is van die verteller van Werfsonde. Hy impliseer eksplisiet dat sy rebellie teen sekere eienskappe van hegemoniese manlikheid teruggevoer kan word na sy verhouding met sy vader, wanneer hy sê: "My weersin in nutswerk kom ook deels van die baie ure wat ek destyds langs my pa moes staan en kyk hoe hy dinge regmaak en kort-kort moes hardloop om nog 'n stuk gereedskap te gaan haal as hy blaf" (23). Schoeman (2010: 53) beweer dat die verteller van Kontrei se rebellie paradoksaal is: "seks met swart vrouens -as die historiese "ander" -[is] vir die verteller 'n bevryding van die taboes van sy Afrikanerverlede [...], maar terselfdertyd erken hy dat hy aan seks met swart vrouens verslaaf is" en is hy afhanklik van "die bepalende en bevestigende blik van die prostitute (en alle vroue) om sy mag as man te behou". Al rebelleer hy naamlik teen sekere vorme van manlikheid, doen hy steeds moeite om ander merkers van hegemoniese manlikheid, soos "geweld, militarisme, patriargie, hoërisikogedrag en seksualiteit" (Schoeman 2010: 4), te vertoon (Schoeman 2010: 48, 54). Soos ander Afrikanermans hou die verteller van rugby (79) en laat dit hom voel soos 'n "goedaardige patriarg" wanneer hy gebraaide vleis die kombuis indra (48). Hy probeer ook 'n pa wees vir Lungi se seun, Jomo. Hy doen dit deur te sorg vir die konvensionele vaderlike take soos dissiplinering (15, 126). Hy is ook die broodwinner van die gesin (140). Schoeman (2010: 50) beweer dat die verteller van Kontrei se oordrewe seksualiteit en die herhalende bordeelbesoeke, wat volgens Schoeman later vir die leser eentonig en banaal raak, beteken dat hy 'n parodie van manlikheid is. So ook sien hy die verteller se gebruik van geweld as parodiërend (Schoeman 2010: 58). Die feit dat die verteller van Werfsonde met 'n rewolwer onder die bed slaap sodat hy sy huis en gesin kan beskerm ingeval "daar moeilikheid kom" (9, 39, 95), is 'n herkenbare eienskap van hegemoniese Afrikaner manlikheid. Dit kom egter wel as parodie voor wanneer die verteller fantaseer dat hy 'n "jagtersvriend" het wat hom kom help om oorlog te voer teen die keffende honde in sy buurt wat hom in die nag wakker hou (49). In hierdie gedeeltes voer die verteller hegemoniese manlike ideale tot by hulle absurde uiterstes. Weereens word hy verteenwoordigend van 'n aspek van wit middelklas identiteit en lê die politieke waarde van Werfsonde in die maniere waarop dit, soos Baudelaire se poësie (kyk Jennings 2006: 1), die strukture en meganismes van die flaneur se samelewing ontbloot. Samevatting My artikel oor Werfsonde se verteller as 'n flaneur laat verskeie interpretasiemoontlikhede toe. Die verteller van die roman maak verskeie antibourgeois uitsprake en kan beskou word as 'n rebel teen "Afrikanerwaardes". Terselfdertyd behels die seks met swart prostitute (en Kleinboer se uitbeelding daarvan) problematiese magsverhoudings en kan dit op 'n soortgelyke manier as in Baudelaire se werk beskou word as 'n uiterste voorbeeld van die kommodifisering van menslike interaksies binne kapitalisme. Só ook kan die verteller se keuse om in "swart" Yeoville te woon, gesien word as 'n reaksie teen die tendens van sommige wit middelklas mense wat hulself afsonder in spesifieke (hoofsaaklik wit) woonbuurte. Aan die ander kant is die verteller vry om hierdie keuse te maak danksy sy bevoorregte middelklas posisie. Enersyds verwerp hy die samelewing se verwagtings van hom as wit man, maar andersyds voer hy sekere manlike ideale tot absurde uiterstes, soos wanneer hy "oorlog voer" teen sy buurt se keffende honde. Soos die flaneurteks deur Benjamin beskryf, ontbloot Werfsonde verskeie teenstrydighede en is dit van politieke belang omdat dit aspekte wat normaalweg in die alledaagse lewe in Johannesburg verhul is (soos die kommodifisering van mense se lewens en die voortdurende invloed van kategorieë soos ras, klas en geslag) ontbloot. Hierdie beskouing dien ook om die literêre benadering waarvolgens die bewegings van karakters as bemagtigend gelees word te nuanseer. Alhoewel karakters se bewegings wel kan dui op die keuses wat hulle uitoefen en die maniere waarop hulle binne sosiale strukture en materiële omgewings 'n mate van agentskap het, moet die beperkings op hierdie bewegings en agentskap nie geïgnoreer word nie. Die verteller van Werfsonde se bewegings (en die swart vroulike karakters se onbeweeglikheid) word beïnvloed deur 'n verskeidenheid faktore. Soos wat Benjamin oor Baudelaire beweer, lê die politieke waarde van Kleinboer se werk in die maniere waarop hy (deur middel van sy eerlikheid en die maniere waarop hy homself blootstel om deur die stad gemerk te word) hierdie faktore sigbaar maak.
doi:10.1080/02564718.2018.1447868 fatcat:qe5uuxkycnhd5hc5vwq3bydmlu