Language and silence: persoonlike herinneringe aan Adam Small, die digter-intellektueel

GJ Gerwel
2012 Tydskrif vir Letterkunde  
Language and silence: persoonlike herinneringe aan Adam Small, die digter-intellektueel G. J. Gerwel G. J. Gerwel is die sesde rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland en die eerste direkteur-generaal van die Staatspresidentskantoor in die na-1994-Suid-Afrikaanse regering. Hy is ook skrywer van Literatuur en apartheid (Kampen, 1983). 'n Algemene publiek, of ten minste 'n Afrikaanse algemene publiek-en in soverre hulle van die wêreld van die lettere kennis neem-sal Adam Small waarskynlik
more » ... all waarskynlik eerstens herken en onthou as digter en dramaturg, en waarskynlik meer spesifiek as die skrywer van Kitaar my kruis en Kanna hy kô hystoe. Dit is met hierdie werke dat hy sy stempel op die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse letterkunde afgedruk en naam gemaak het-as daardie uitdrukking nie onvanpas is nie vir iemand wat vir 'n lang tyd so ondererkend en onderwaardeerd was. Wat dikwels nie deur so 'n publiek onthou of besef word nie is dat Small van opleiding en beroep 'n filosoof was; 'n praktiserende filosoof, dosent in die Wysbegeerte. Maar Small was meer as net akademiese filosoof en dosent. Ek dink dis Charles van Onselen wat op 'n slag opgemerk het dat daar aan ons inrigtings te veel "akademici" en te min "universiteitsgebaseerde intellektuele" is. Laasgenoemde was Small beslis-grondig intellektueel en een wat toevallig op tye daardie lewe van die intellek aan 'n universiteit gelei het. Om denkend te lewe, was sy credo. En aan sy samelewing en sy tyd het Small as denker deurgaans en deurlopend sy aandag gewy. Hy het behalwe sy akademiese werk onvermoeid aan die openbare gesprek deelgeneem, onder andere deur artikels en briewe in koerante en tydskrifte. Dit is aan daardie aspek van die lewe van die mens wat in hierdie simposium gehuldig word dat ek gevra is om kortliks aandag te gee in hierdie inleidende voordrag. Ek beoog nie om 'n akademiese voorlegging-'n kritiese ontleding van sy filosofiese skrywes met voetnote en uitgebreide bronnelyste-te doen nie. Eerder om verslag te doen oor my ervaring van en herinnering aan dié denker en digter. Small was my dosent, mentor, kollega, gespreksgenoot en vriend. Daar was 'n tydperk in ons lewens toe ons vir mekaar naaste vriende was, baie tyd saam deurgebring, ook met ons gesinne saam. Aan die basis van die verhouding was die gesprek, die denkende gesprek. Ek sien nou die dag weer die kopie van die boek Gesprekke met skrywers waarin Ronnie Belcher met hom 'n onderhoud voer. Voorin die boek wat hy vir my as geskenk gegee het, skryf hy: "in begrypende vriendskap". Om te begryp was deurgaans die bemoeienis van Adam Small in al die fasette van sy lewe. (Ook om begryp te word, moet ek byvoeg; maar daaroor later.)
doi:10.4314/tvl.v49i1.2 fatcat:cs4t7ewfmzge5ahhem6hondq4i